Chicken Industry

Juris tree toe tot hoenderoorlog

OUDREGTER Richard Goldstone (foto) het skaars sy rol as beskermheer van die teenstortingsgroep Fair Play aanvaar, toe die vere opnuut weer begin waai het oor hoenderinvoer uit Europa.

 

Goldstone, ’n internasionaal erkende regsman en kampvegter vir menseregte, het in ’n verklaring van Fair Play ’n beroep gedoen op alle deelnemers om “billik en volgens die internasionale ooreenkomste wat hul lande onderskryf”, handel te dryf.

 

Kort tevore het die Europese Unie (EU) se afvaardiging in Suid-Afrika ’n sterk bewoorde verklaring uitgereik waarin hy ontken hy stort hoender. Die afvaardiging het verskeie aantygings oor werksverliese deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) ontken.

 

‘NIÉ STORTING’

 

Die EU-afvaardiging sê as dit so was dat sy produsente hoender gestort het, sou die SAPV klagtes daaroor by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) ingedien het.

 

“Die Suid-Afrikaanse owerhede erken self dat storting nie die kwessie is nie,” sê die EU.

 

Daarop het die SAPV gesê Itac het vroeër produsente in Duitsland, Nederland en Brittanje skuldig bevind aan storting.

 

“Die enigste rede waarom alle EU-lande wat na ons uitvoer, nie aan storting skuldig bevind is nie, is die soms esoteriese (arcane) reëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), wat handel reguleer.

 

“Ons sal weldra met stappe teen ál daardie EU-lande begin wat binne die WHO se drempels val wat almal donker hoendervleis (stukke aan die been) stort.”

 

PERSENTASIES

 

Die EU sê sy hoender wat na Suid-Afrika uitgevoer is – verlede jaar nie meer nie as 200 000 ton hoenderstukke aan die been – is sowat 10% van die totale pluimveeverbruik in Suid-Afrika en te min om die hoofrede vir die plaaslike bedryf se probleme te wees.

 

Die SAPV sê egter as ’n mens na totale hoenderinvoer kyk (26% van plaaslike verbruik), is dit beslis problematies.

 

Boonop kla die EU se hoenderboere oor die sowat 7% hoender wat na die EU-mark ingevoer word.

 

Goldstone het in die Fair Play-verklaring benadruk dat hy handel en mededinging steun.

 

“Wanneer internasionale handel volgens die reëls geskied waaroor in die WHO ooreen gekom is, bevorder dit welvaartskepping vir almal en dien alle belanghebbendes in die waardeketting,” sê hy.

 

“Die storting van produkte oortree egter die reëls en in die proses vernietig dit op ’n onbillike manier waarde, werkgeleenthede en mededinging.

 

“As ons billike mededinging in internasionale handel wil hê, moet alle deelnemers billik en volgens die internasionale ooreenkomste wat hul lande onderskryf, handel dryf.”

 

TAAKSPAN

 

Die Regering het intussen nog nie bekend gemaak watter maatreëls sy taakspan voorstel om die bedryf te red nie.

 

Die EU sê handelsmaatreëls sal op hul eie nie die bedryf se probleme oplos nie.

 

Die EU se verteenwoordigers het al verskeie kere gevra om die taakspan te ontmoet en ook aangebied om Suid-Afrikaanse boere te help met toegang tot die EU-mark. Hulle hoop die komende maande sal “’n meer opbouende toon” bring.

 

Die SAPV se reaksie was dat sy verhouding met die EU sal verbeter indien die EU eerliker (truthful )is. – CARIEN KRUGER

 

‘Boonop kla die EU se hoenderboere oor die sowat 7% hoender wat na die EU-mark ingevoer word.’

 

Landbouweekblad 28 Apr 2017
Oudregter Richard Goldstone.
https://www.pressreader.com/south-africa/landbouweekblad/20170428/284760631310287