VAT FREE Chicken

Voedingsaksie sal BTW-vrye hoender verwelkom

Die veldtog om hoendervleis van BTW vry te stel het nog ’n stem bygekry. Liesel Koen van Stellenbosch Voedingsaksie sê dat meer bekostigbare hoender ’n wesenlike verskil sal maak in die lewens van die mense wat deur haar organisasie bedien word.

“As gevolg van bekostigbaarheid, gebruik ons hoofsaaklik maalvleis en soja saam met droë produkte soos pasta, stampmielies en rys,” verduidelik Liesel. “Alhoewel hoender baie gewild is, kan ons dit nie meer self aankoop nie omdat dit net te duur geword het. Ons kan dus net hoender aanbied as dit vir ons geskenk word.”

As hoender meer bekostigbaar word – byvoorbeeld deur BTW-vrystelling – verwag Liesel dat hul gereelde skenkers meer hoendervleis sal skenk, met twee uiters belangrike gevolge: “Dit sal meer afwisseling op ons spyskaart moontlik maak en die nodige voedingswaarde verseker,” sê sy. “Disse soos breyani, hoenderbredie en pasta wat hoender insluit, is altyd treffers by die behoeftiges wat ons bedien.”

Liesel is Stellenbosch Voedingsaksie se projekbestuurder, en as iemand weet hoe om ’n kosbegroting te laat klop, is dit sy.

“Mense soos Liesel herinner ons daaraan dat daar duisende voedingskemas landwyd is, en dat hulle ons hulp nodig het om nie net genoeg kos nie, maar ook voedsame kos te voorsien aan die mense wat op hulle staatmaak,” sê Francois Baird, stigter van FairPlay, ’n sosiale beweging wat daarop uit is om roofhandelspraktyke soos storting uit te roei.

FairPlay het onlangs sy gewig ingegooi by organisasies en individue wat hoender in die mandjie van BTW-vrygestelde kos wil sien. Die bestaande mandjie word tans deur die Woolard-paneel van kundiges hersien.

FairPlay is reeds ’n vaandeldraer in die stryd om ʼn verbod te plaas op bevrore hoenderstukke wat in Suid-Afrika gestort word deur meestal Europese en Suid-Amerikaanse produsente.

“Ons werk in die hoenderafdeling het ons laat besef hoe gewild hoendervleis in Suid-Afrika is en hoeveel lae-inkomstehuishoudings dit as hul voorkeurproteïene beskou,” sê Baird. “Ons verstaan ook dat ons plaaslike pluimveebedryf onder groot druk is en dat ’n hupstoot soos BTW-kwytskelding tot groei, belegging en werkskepping sal lei. Ons het tot die BTW-debat toegetree omdat ons glo dat BTW-vrye hoendervleis ons hele samelewing sal bevoordeel.”

Baird meen dat wanneer lae-inkomstegesinne meer en beter kwaliteit diereproteïene kan bekostig, dit hul gesondheid en lewensgehalte sal verbeter. In die proses sal nasionale vraagstukke soos die kognitiewe en fisieke ontwikkeling van kinders en skolastiese vordering baie meer aandag kry.

“Soos sake staan, het ’n verslag van Statistieke Suid-Afrika (SSA) die skokkende feit openbaar dat sowat ’n derde van alle kinders in Gauteng en die Vrystaat verdwerg is weens chroniese wanvoeding. Hierdie kinders gaan nooit hul volle potensiaal bereik nie – dis ’n nasionale tragedie wat voorkom moet word. Een plek om te begin, is om te verseker dat meer mense makliker toegang het tot bekostigbare proteïene,” sê hy.

’n BTW-voordeel sal boonop aanvraag na hoender stimuleer wat tot groei in die plaaslike pluimveebedryf sal lei. ’n Gesonde bedryf wat belegging aantrek en werk skep, sal die fiskus met ander belastings as BTW bevoordeel.

Maar vir Liesel en die volwassenes en kinders wat afhanklik is van die 10 000 maaltye wat Voedingsaksie elke week bedien, gaan dit daaroor om meer waarde uit haar beperkte begroting te kry – ’n missie waarmee miljoene Suid-Afrikaners identifiseer.

“Dit is hoog tyd dat ons ophou rond pik-pik en eerder so gou moontlik die besluite neem wat die grootste voordeel vir die grootste aantal mense inhou,” sê Baird.

Deur Charmain Lines