‘n Knuppel is as ‘t ware in die hoenderhok gegooi oor die EU se storting van hoendervleis in SA. Die EU en die SA Pluimveevereniging is slaags.
Die vere waai opnuut oor hoenderinvoer uit Europa nadat die Europese Unie ontken het dat hy hoendervleis stort en só werkverliese veroorsaak.
Die EU-afvaardiging tot Suid-Afrika het in ‘n verklaring verskeie aantygings hieroor deur die SA Pluimveevereniging (SAPV) afgemaak, waarop die SAPV self skerp gereageer het.
Dit is in dié omgewing van wyd uiteenlopende standpunte waar regter Richard Goldstone, internasionaal erkende juris en menseregtekampvegter, voortaan ‘n rol kan speel as beskermheer van die Fairplay-teenstortingsbeweging. Die eerste projek is om storting van hoendervleis in Suid-Afrika te stuit.
Billike mededinging
Goldstone het in ‘n FairPlay-verklaring benadruk dat hy handel en mededinging steun. “As ons billike mededinging in internasionale handel wil hê, moet alle deelnemers billik en volgens die internasionale ooreenkomste wat hul lande onderskryf, handel dryf.”
Die EU-afvaardiging grond sy argument dat sy produsente nié hoendervleis stort nie, op die feit dat die SAPV nie klagtes hieroor by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) ingedien het nie, soos hy voorheen al gedoen het nie. “Die Suid-Afrikaanse owerhede erken self dat storting nie die kwessie is nie,” sê die EU.
Die SAPV het teruggekap en gesê Itac het vroeër produsente in Duitsland, Nederland en Brittanje skuldig bevind aan storting.
Veroordeelde storters
“Die SAPV glo die tariewe vir dié drie veroordeelde storters is te laag om die onbillikheid van hul storting te pak. Die enigste rede waarom alle EU-lande wat na ons uitvoer, nie skuldig bevind is aan storting nie, is die soms geheimsinnige (arcane) reëls van die WTO, wat handel reguleer.
“Ons sal te gelegener tyd met stappe begin teen ál daardie EU-lande wat binne die WHO-drempels val, wat almal donker vleis (stukke aan die been) stort.”
Die EU sê sy invoer (nie meer as 200 000 ton hoenderstukke aan die been in 2016) is sowat 10% van totale pluimveeverbruik in Suid-Afrika en te min om die hoofrede vir die plaaslike bedryf se probleme te wees.
Totale invoer van hoendervleis
Die SAPV sê egter as ‘n mens na totale hoenderinvoer kyk, wat 26% van plaaslike verbruik is, is dit beslis problematies, en dat EU-hoenderprodusente ontsteld oor die sowat 7% van die EU-mark wat daar ingevoer word.
Die Regering het intussen nog nie bekend gemaak watter maatreëls sy taakspan voorstel om die bedryf te red nie.
Deur Carien Kruger
This article originally appeared in Landbou.com on 20 April 2017
http://www.landbou.com/nuus/vere-waai-tussen-eu-en-sapv-oor-storting/