Chicken Industry

Regter veroordeel ‘roof-storting’

Regter Richard Goldstone, beskermheer van die teenstortingsbeweging FairPlay, het die optrede van invoerders wat hulle skuldig maak aan hoenderstorting sterk veroordeel.
Dit sal in die Regering se belang wees om stappe te doen teen enige praktyke wat die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf skade berokken en duisende werkers hul poste kan laat verloor. Só sê regter Richard Goldstone, beskermheer van die FairPlay-teenstortingsbeweging.

 

Goldstone het by ‘n beraad van die beweging gesê volgens beide internasionale en Suid-Afrikaanse wetgewing is storting nie onwettig nie. Dit word bloot “veroordeel”.

 

Die enigste toegelate hulp vir diegene wat skade ly weens roof-storting (predatory dumping) is die instel van invoertariewe wat nie groter mag wees as die marge van die storting nie, het Goldstone gesê.

 

Die regter het dit duidelik gemaak hy is nie ‘n kenner van werkverskaffing of die pluimveebedryf nie. Hy weet egter die pluimveebedryf is die laaste ses jaar swaar deur afleggings, sluitings en likwiderings geraak.

 

“Een van die redes vir die inkrimping van die pluimveebedryf word aan roof-storting deur buitelandse produsente toegeskryf, spesifiek sommige lede van die Europese Unie.”

 

Sukses

 

Suid-Afrika se toekomstige sukses hang daarvan af of rykdom eweredig versprei kan word, het Goldstone gesê. Werkloosheid het ‘n vernietigende uitwerking op die ekonomie.

 

“Ons behoort elke dag aan ons miljoene medeburgers te dink wat nie werk kan kry nie en die lyding wat dit vir hulle en hul families veroorsaak. Roof-storting vererger dié ellende.

 

Goldstone het gesê in sommige gevalle het storting ‘n roof-doelwit.

 

“Hier is die bedoeling van die uitvoerder om plaaslike produsente te dwing om insolvent te word en toe te maak – dus die vernietiging van mededinging. Die buitelandse roof-storter kan dan sy produkte teen hoër pryse na daardie land uitvoer, sonder om te vrees vir mededinging van produsente wat gedwing is om toe te maak.

 

“Die meeste mense sal verras wees om uit te vind dat sulke gedrag nie deur Suid-Afrikaanse of internasionale wetgewing verbied word nie,” het Goldstone gesê.

 

Mnr. Anthony Norton, regsgeleerde van Norton’s Inc Attorneys, het tydens ‘n paneelbespreking gesê hy is optimisties dat Suid-Afrika se wetgewing oor mededinging en beskerming van verbruikers gebruik kan word om vergoeding rakende gestorte hoender te eis.

 

Mededingingswetgewing vereis onder meer dat oorheersing bewys moet word, wat gewoonlik moeilik is, maar Norton sê die wet maak ook voorsiening daarvoor dat markkrag bewys kan word.

 

Regering belowe hulp

 

Mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird Holdings (CBH) en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se braaihoenderorganisasie, het FairPlay bedank vir sy hulp tot dusver.

 

‘n Taakspan het in opdrag van die Regering reeds ‘n dik verslag met voorstelle opgestel. Stander het gesê ‘n mens moet egter nie groot aankondigings verwag nie, oplossings sal eerder bietjie-bietjie in werking gestel word.

 

FairPlay is ook besig om handtekeninge vir ‘n versoekskrif te werf waarin die Regering gevra word om op te tree. Stander het gesê CBH gaan nie meer ‘n aanleg in Mafikeng, Noordwes, sluit nie, op versoek van dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, asook ‘n belofte dat daar hulp sal wees.

 

Beide hy en dr. Charlotte Nkuna, uitvoerende amptenaar van die SAPV, het dit verwelkom dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie soos in die verlede Europese produsente binne ‘n kort tydperk nadat hulle as skoon van voëlgriep verklaar is, weer toelaat om na Suid-Afrika uit te voer nie.

 

Die departement het gesê hy wil elke betrokke land besoek om hul status te bevestig, soos wat Europese lande gewoonlik ook met Suid-Afrika doen, het Stander gesê.

 

Deur Carien Kruger
3 Augustus 2017
http://www.landbou.com/nuus/regter-veroordeel-roof-storting/