Talle hoenderprodusente is “op die randjie van die afgrond”, en die Regering gaan help, sê die Landbouminister. ’n Reguleringsraamwerk is nodig om hoenderstorting in die land te keer, sê die Regering en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV).
Verskeie parlementêre komitees vergader die afgelope weke met belanghebbendes in die hoenderbedryf om oplossings te vind vir die hoenderkrisis wat hoofsaaklik weens die invoer van hoender uit die Europese Unie (EU) veroorsaak is. Die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het selfs openbare verhore oor die kwessie geroep.
Mnr. Kevin Lovell, hoof van die SAPV, het die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye daarop gewys dat ’n reguleringsraamwerk wat groei en volhoubaarheid in die plaaslike bedryf ondersteun, die hoenderbedryf in die land kan help red. Hy het gevra dat slegs hoender spesifiek vir Suid-Afrika geproduseer, ingevoer word en nie van EU-lande wat hier van hul oorskothoender ontslae wil raak nie.
Mnr. Mooketsi Ramasodi, die adjunk-direkteurgeneraal vir landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid by die departement van landbou, bosbou en visserye, het aangedui dat enige voorgestelde maatreëls van die departement binne die regulatoriese raamwerk van die Wêreldhandelsorganisie moet wees, met spesifieke verwysing na die ooreenkoms rakende die aansoek van die sanitêre en fitosanitêre maatreëls én die ooreenkoms rakende tegniese versperrings vir handel.
Stortingsterrein
Die land blyk die stortingsterrein van verskeie lande, onder meer die EU en Amerika, te wees, het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gesê. Hy het bygevoeg dat dié lande van hul “bruin hoendervleis”, wat hulle hoender aan die been noem, ontslae wil raak, so dit vererger die druk waaronder die pluimveebedryf reeds verkeer.
“Een van die uitdagings wat ons land in die gesig staar is hoë insetkoste. Tot sowat 75% wat die kuikens eet, kom van mielies en sojabone. Die ander probleem is die droogte.” Hy het gesê die land se produksie van dagoue kuikens is baie laag en daarom is die land ’n invoerder van braaikuikens.
Zokwana het ook aangedui dat samesprekings reeds met die EU begin is om vas te stel waarom hulle nie borsvleis, wat gewild onder hulle verbruikers is, van Suid-Afrika kan invoer om die skade te versag wat die invoer van die “bruin hoendervleis” meebring nie.
“Meeste van die maatskappye, veral in Kwazulu-Natal, is op die randjie van die afgrond.” Hy het verder aangedui dat besprekings steeds aan die gang is met die Departement van Handel en Nywerheid om die hoenderbedryf te help om verdere werksverliese te keer.
Plaaslike werk verlore
Lovell meen hoenderstorting steel Suid-Afrikaners se werk. “Ons kan nie bekostig dat ryk lande ons werk afvat nie. Hulle moet die gevolge van hul kosvoorkeure self dra. Ons wil soos gelykes handel dryf met die lande wat tans hoender in ons mark stort.
“Ons kan die taak slegs as afgehandel beskou as totale invoer van hoender met minstens die helfte geval het.” Fair Play, die internasionale teenstortingsinisiatief wat hom bearbei vir die beëindiging van storting, meen dit is tyd dat die skuldiges en hul heulers in storting straf ontvang. Dit sal help om te verseker dat hoenderstorting onmiddellik stop en om die slagoffers van storting te help.
Fair Play hoop dat die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid drie kwessies onder loep sal neem. Dit is om te bepaal wie bedryf die onwettige handelspraktyk van storting en hoe gaan die skuldiges die skade wat hulle veroorsaak, herstel. Tweedens watter stappe die Regering moet neem om storting te beëindig, en derdens hoe die Regering diegene wat hulle werk verloor het, gaan ondersteun.
Deur Joylene van Wyk
This article first appeared in Landbou.com on 23 March 2017
http://www.landbou.com/nuus/regering-wil-hoenderstorting-keer/