Chicken Industry

Protes Beplan Teen Goedkoop Ingevoerde Hoender En Suiker

Die Food and Allied Workers’ Union (Fawu) sien rooi oor werkverliese in die Suid-Afrikaanse hoender- en suikerbedryf.

Die vakbond gaan móre optogte na die parlement en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hou om protes aan te teken teen wat hy noem “die regering se deurlopende traagheid om stappe teen onregverdige handelspraktyke te doen wat werkverliese veroorsaak in plaaslike bedrywe, onder meer hoender en suiker”. Optogte sal in Pretoria en Kaapstad gehou word.

Dit word ondersteun deur die FairPlay-beweging, ‘n drukgroep wat hom beywer vir die beskerming van plaaslike werkgeleenthede deur die storting van goedkoop ingevoerde produkte te stuit.

“Indiensneming in die suikeren die pluimveebedryf neem af weens onvoldoende beskerming, waaronder gepaste tariefmaatreëls,” sê Fawu in’n mediaverklaring.

Wanneer ingevoerde produkte die land teen ‘n laer prys binnekom as waarteen die plaaslike vervaardigers dit kan produseer, is een van die maatreëls wat die regering kan tref om ‘n beskermingstarief deur die Suid-Afrikaanse kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) aan te vra.

Plaaslike produsente moes begin 2017 werkers uit diens stel en aanlegte sluit weens ‘n stortvloed van goedkoop ingevoerde hoenderstukke uit die Europese Unie (EU).

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het toe ‘n taakspan aangestel om die kwessie te ondersoek en oplossings te vind.

Maatreéls is egter nog nie aangekondig om die plaaslike pluimveebedryf te help nie. Intussen is die druk op die bedryf wel verlig omdat hoendervoer goedkoper geword het en die EU onder voëlgriep deurgeloop het, wat tot ‘n verbod op invoer uit daardie lande gelei het.

Maar die plaaslike bedryf sê die stroom ingevoerde hoender raak nie kleiner nie, en die EU se plek is nou deur ander groot hoenderuitvoerders, soos Brasilië, ingeneem. “Ons wil hê die regering moet toeslaan op die onwettige handel in pluimvee, suiker, lekkergoed, tabak, alkohol, vis en koeldrank,” sê Katishi Masemola, Fawu se hoofsekretaris.

“Dié praktyk is buite beheer en dit kos ons mense hul werk.” FairPlay sê sy doelwit is om roofsugtige handelspraktyke tussen lande stop te sit sodat groot en klein lande op ” ‘n gelyke speelveld kan meeding”.

Volgens Francois Baird, stigter en uitvoerende hoof van FairPlay, is die plaaslike suikerbedryf van strategiese belang en word dit deur goedkoop invoer bedreig.

“Werkgeleenthede bly onnodig in die slag omdat die maatreëls wat die plaaslike bedryf moet ondersteun, nie betyds ingestel word nie of nie buigsaam genoeg is nie.”

Vida Booysen
First published in Beeld on 05 March 2018