Chicken Industry

Listeriose: Jymóét weet van waar hoender kom

‘n Pak bevrore hoenderstukke wat plaaslik te koop is wat FairPlay onlangs aan afgevaardigdes van die Europese Kommissie gewys het. Verskeie lande word as die moontlike oorsprong van die stukke aangedui.

Foto: ELVIRA WOOD

Suid-Afrikaners word deur ernstige gesondheidsrisiko’s in die gesig gestaar weens ingevoerde hoendervleis, en boonop betaal hulle nie eens veel minder daarvoor as vir veiliger plaaslike produkte nie.

Só sê die organisasie FairPlay, wat hom teen die storting van oorsese hoendervleis beywer, in die lig van ‘n Special Assignment-program oor die bedenklike praktyke by Brasiliaanse hoenderverwerkingsaanlegte en die listerioseepidemie in Suid-Afrika wat al minstens 67 mense geëis het. ‘n Groot hoeveelheid hoender word van Brasilië ingevoer, asook van Europa. Hoender word ook uit die VSA ingevoer.

Plaaslike produsente glo dat hoender teen onder kosprys hier gestort word, wat die hoenderbedryf plaaslik laat kwyn. Duisende mense het in 2017 hul werk in die bedryf verloor, lank voor die voëlgriepepidemie, wat hoofsaaklik eierprodusente geraak het.

FairPlay het verlede maand ‘n klag by Ebrahim Mohamed, die nasionale verbruikerskommissaris, ingedien nadat hy pakke bevrore hoenderstukke by Makro in Woodmead, Sandton, opgespoor het wat moontlik uit nege lande op drie vastelande afkomstig is.

“Dit is gevaarlik vanuit die oogpunt van voedselveiligheid en naspeurbaarheid,” het Francois Baird, stigter van FairPlay, toe gesê.

“In die geval van siekte of besmetting sal dit onmoontlik wees om hierdie produk na te speur tot by die land van oorsprong en om die betrokke uitvoerder of abattoir te vind.”

Die grootste probleem met die listeriose-epidemie is juis dat die oorsprong van die dodelike bakteriële besmetting nog nie opgespoor kon word nie. Daar is tans geen bewys dat dit wel van ingevoerde of selfs van plaaslike hoenderprodukte kom nie.

Listeriose kan ook deur vars groente en vrugte, vis of ander vleis oorgedra word.

Baird sê hulle is nie verras deur Special Assignment se onthullings Maandag nie. Dit wys hoe hoendervleis ontvries, weer bewerk en weer gevries word – stappe wat tot gevaarlik hoë vlakke van bakterieë kan lei.

“FairPlay het die regering gevra om dieselfde streng veiligheidsmaatreëls op ingevoerde hoender toe te pas as waaraan Suid-Afrikaanse produsente moet voldoen, met geen sukses tot dusver nie. Die onafhanklike ondersoek na ingevoerde hoender bewys hoe belangrik dit is dat dié tydbom ontlont word.”

Die departement van landbou, bosbou en visserye en van gesondheid ondersoek plaaslike hoender van die plaas tot op die winkelrak.

Baird sê hulle het verlede jaar op ‘n vergadering met verteenwoordigers van die Europese Unie (EU) ‘n pak bevrore hoender uit Europa getoon waarvan die land van oorsprong onmoontlik is om te bepaal.

Baird sê benewens die kommer oor etikettering en veiligheid, betaal plaaslike verbruikers nie regtig minder vir die “goedkoper” ingevoerde hoender nie.

FairPlay vind dit ook ironies dat die Vereniging vir Vleis-invoerders en -uitvoerders (Amie) die departement van landbou hof toe wil sleep oor die toetse wat op bevrore rou vleis by die Durban-hawe gedoen word.

“Amie kla dit neem te lank om alle invoer te klaar, wat sy sake raak.

“Maar kan enige kortpad toegelaat word wanneer verbruikers se veiligheid ter sprake is?” vra Baird.

First published in Beeld on 22 January 2018
By Hanlie Stadler