In 2016 is 240 000 t hoenderstukke aan die been na SuidAfrika ingevoer
Die plaaslike hoenderbedryf se oorlewingstryd teen voëlgriep en goedkoop ingevoerde hoenderstukke raak daagliks feller.
Dit lyk asof voëlgriep nou endemies in Mpumalanga en Gauteng geword het, en die land se grootste pluimveeprodusent, Astral, loop erg deur.
Die maatskappy het pas aangekondig dat nog een van sy broeiplase onder die hoogs aansteeklike H5N8-virus deurloop. Duur teelhoenders van tot R1 000 stuk moet hier vernietig word.
Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, sê die beskerming van Suid-Afrika se peperduur broeivoorraad is noodsaaklik om verdere geldelike verliese vir die plaaslike bedryf, wat meer as R46 miljard werd is, te stuit, asook om verdere werkverlies te vermy en voedselsekerheid te beskerm. Hy vra dat die regering nou inenting teen die virus oorweeg.
“Toe die herfskommandowurm die land se mieliebedryf bedreig het, het die minister persoonlik ingegryp. Die uitbreking van die hoogs aansteeklike soort voëlgriep in Suid-Afrika is nie meer net ’n bedreiging vir individuele pluimveeboere nie, maar is van nasionale belang vir alle bedrywe wat van dié boere afhanklik is.”
Intussen het FairPlay, ’n organisasie sonder winsbejag wat teen storting veg, gister op ’n paneelbespreking in Johannesburg gewaarsku dat die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf nie staande kan bly nie teen “roofsugtige storting” uit gebiede soos die Europese Unie, waar produsente groot subsidies ontvang.
FairPlay beplan om binnekort ’n petisie aan pres. Jacob Zuma en dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, voor te lê waarin hulle dringende stappe teen die invoer van pluimveeprodukte na Suid-Afrika vra.
Regter Richard Goldstone, een van die paneellede, sê dat roofsugtige storting die storter uiteindelik in staat stel om die plaaslike mark te oorheers. Maar nóg storting nóg roofsugtige storting is ingevolge Suid-Afrikaanse of internasionale wetgewing onwettig. Dit maak dit dus baie moeilik om regstappe daarteen te doen.
Die jongste uitbreking van die voëlgriep, wat nie gevaarlik vir mense is nie, maar dodelik vir voëls, is op Astral se broeiplaas Welbedacht aan die oewer van die Grootdraaidam net buite Standerton. Dit volg op die uitbreking op ’n plaas van Astral in die Villiers-distrik.
“Die twee uitbrekings hou geen verband met mekaar nie en die verspreiding van infeksie op die Villiers-plaas is suksesvol beheer,” sê Gary Arnold, Astral se besturende direkteur van landbou.
Maar hy voeg by dat die virus in agterplaashoenders en wilde watervoëls in die Standerton-distrik opgemerk is en dat dit begin lyk of die H5N8virus endemies aan Mpumalanga en Gauteng word.
“Dit is bekend dat ’n aantal groot kommersiële hoenderplase in hierdie distrik geleë is en die teenwoordigheid van die virus in dié streek hou ’n ernstige bedreiging vir dié ondernemings in.”
Die departement van landbou, bosbou en visserye het reeds tien uitbrekings bevestig, vier daarvan op kommersiële hoenderplase. Die uitbrekings is almal in Mpumalanga en Gauteng.
Die departement het Dinsdag in die parlement gevra dat die nasionale tesourie R23 miljoen bewillig om die uitbreking van voëlgriep onder hoenders te bestuur.
Meer as 800 000 hoenders is reeds weens voëlgriep van kant gemaak, terwyl miljoene eiers vernietig is.
First published in Beeld on 03 Aug 2017
by Vida Booysen en Elvira Wood
https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20170803/281960312834947