Die regering het einde Julie sy eie spertyd misgeloop om tariefbeskerming vir die plaaslike suikerbedryf in te stel.
Daarom moet die stimulusplan wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het in sy toespraak oor die ANC se planne vir ‘n wysiging aan die Grondwet verwelkom word, sé Francois Baird, stigter van FairPlay. Dié organisasie is ‘n kampvegter vir ‘n regverdige en billike handelsbedeling.
Die stimulusplan fokus onder meer op werkskepping en sluit beskermingsmeganismes in soos handelsteun aan plaaslike bedrywe wat deur groter invoer geraak word.
Die suikerbedryf het einde Junie die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gevra vir beter beskerming teen die groeiende volumes goedkoop ingevoerde suiker uit lande waar suikerboere groot subsidies kry.
Die Suid-Afrikaanse sui kerbedryf raam dat 15 000 mense reeds weens die mededinging van die goedkoop suiker hul werk verloor het.
Volgens Baird het Lionel October, direkteur-generaal van die departement van handel en nywerheid, toe belowe om teen einde Julie die kwessie van beskerming op te los.
“Goedkoop invoer het duisende poste in die suiker- en hoenderbedryf in die slag laat bly en ons vra al geruime tyd invoerbeskerming teen storting.”
Hy wys daarop dat albei bedrywe vir die land van strategiese belang is en in werklikheid behoort dit uitgebrei te word en meer werk te skep.
“Dit is noodsaaklik dat die regering vinnig optree om verdere werkverliese te voorkom.” Die bedrywe vra dringende steun in die vormvan invoertariewe omdat al hoe meer goedkoop hoender en suiker die land binnekom.
Baird sê hy hoop die aankondiging van Ramaphosa beteken dat die regering nou gaan ophou voete sleep oor die kwessie, sê Baird.
Die regering het reeds in 2016 ‘n taakspan aangestel om oplossings vir die krisis in die hoenderbedryf te vind, maar tot nog toe is geen verslag oor die vordering van die taakspan uitgereik nie.
“Werkbeskerming is net so belangrik soos werkskepping – dit lewer onmiddellike resultate en is op lang termyn waarskynlik goedkoper,” sê Baird. FairPlay verwelkom ook die fokus in die stimuluspakket op nuwe beleggings en plaaslike produkte.
Hy het sy beroep herhaal dat hoendervleis van BTW vrygestel word om die bedryf te ondersteun en verbruikers tegemoet te kom.
Vida Booysen