Chicken Industry

Dag van ellende vir hoenderbedryf

Die hoenderbedryf, wat op sy knieë gedwing word deur die storting van hoendervleis uit die Europese Unie, teken Woensdag protes aan met ‘n optog in Pretoria.

 

’n “Dag van ellende”, wanneer 1 000 werkers in die hoenderbedryf hul werk sal verloor weens die storting van Europese hoender in die plaaslike mark, gaan gekenmerk word deur ’n protesoptog teen die benarde situasie waarin hoenderprodusente en -werkers hulself bevind.

 

Sowat 1 000 werkers in dié bedryf is vanaf Woensdag (1 Februarie) sonder ’n werk, grootliks as gevolg van die ingevoerde hoender wat deur EU-lande in Suid-Afrika gestort word en plaaslike produsente uit die mark druk.

 

Afleggings by ’n fabriek van RCL Foods in Hammarsdale, KwaZulu-Natal, tree amptelik op Woensdag in. Sowat 1 350 poste is afgeskaf omdat die maatskappy sy skofte met die helfte verminder het. Nagenoeg 300 mense is egter ander poste binne die maatskappy aangebied.

 

Nóg afleggings sal na alle waarskynlikheid volg indien die Regering nie ingryp en beskerming aan plaaslike produsente bied nie.

 

Hoender-storting
Die optog sal in Pretoria plaasvind, met betogers wat na die Europese Unie se kantore sal opruk.

 

Europese maatskappye word daarvan beskuldig dat hulle surplus hoenderstukke aan die been, wat in hul markte as afvalstukke beskou word, na Suid-Afrika uitvoer teen pryse wat nie hul produksiekoste daarvan dek nie. Dié praktyk word deur die Wêreldhandelsorganisasie as storting beskryf.

 

Verteenwoordigers van die vakbond Food and Allied Workers’ Union (Fawu), die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, Astral Foods, Suid-Afrika se grootste hoenderprodusent, RCL Foods en Country Bird sal saam met werkers aan die optog deelneem.

 

This article was first published on www.landbou.com on 30 January 2017

www.landbou.com/nuus/dag-van-ellende-vir-hoenderbedryf